Intieme seremonie vir Graeme Smith en sy Morgan
2011-08-06 22:10
Kaapstad – Graeme Smith, kaptein van die Proteas, het Saterdag in Kaapstad ewige trou beloof aan die Ierse sangeres Morgan Deane.
Die paartjie is by die St. Bernard-kerk in Kaapstad getroud, en die onthaal is by die Suikerbossie-restaurant in Houtbaai gehou.
Vriende en familie van Deane het van Ierland gereis om die geleentheid by te woon.
"Graeme en Morgan wou 'n intieme troue hê wat slegs bygewoon word deur nabye vriende en familie," het Smith se persoonlike assistent, Fiona de Sousa, gesê.
Smith, 30, en Deane, 26, se romanse het in Februarie begin toe die Ierse skoonheid na Indië gevlieg het om Smith en die Proteas in die Krieket-wêreldbeker te ondersteun.
Hy is in April na Ierland, waar hy haar pa om sy dogter se hand gevra het.
Smith het die groot vraag tydens 'n vakansie in Cork, Ierland gevra.
Morgan het ná hy om haar hand gevra het, getweet: "Ek het pas verloof geraak aan die mees ongelooflike man wat ek al ooit ontmoet het. Graeme, ek is lief vir jou.. Ek is die gelukkigste meisie in die wêreld."
– Volg Nuus24 op Twitter.
– Sport24