Interne struwelinge ruk jeugliga-komitee uitmekaar
2011-11-26 21:00
Port Elizabeth – Die streeks- uitvoerende komitee (REC) van die ANC-jeugliga (ANCYL) in Nelson Mandelabaai in die Oos-Kaap is ontbind, het die jeugliga Saterdag gesê.
"Die REC het nie-erkende takke byeengeroep en met opset die organisatories-voorgeskrewe prosesse vir die byeenroeping van vergaderings van die ANCYL verontagsaam," het Nkosinathi Nomatiti, woordvoerder vir die jeugliga in die Oos-Kaap, gesê.
"Hierdie verontagsaming van die organisatoriese prosesse en prosedures kom neer op die koop van lidmaatskap deur sekere lede van die REC namens gewone lede sowel as die byeenroeping van onwettige vergaderings."
Die besluit om die REC te ontbind is Saterdag by 'n vergadering van die ANCYL se Oos-Kaapse provinsiale uitvoerende komitee in Port Elizabeth gemaak.
Nomatiti het gesê die REC-vergaderings is byeengeroep in reaksie op die komende kongres van die ANC in dié streek.
Die onwettige vergaderings was 'n poging om 'n voorafopgestelde verteenwoordiging vir verskillende takke te verseker sodat die posisies van die huidige REC by die kongres verseker kon wees.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA