Interdik na protes oor matriekeksamen
2009-11-16 14:47
Johannesburg – Tien lede van die Congress of South African Students (Cosas) het Maandag vlugtig in die Wynberg-landdroshof verskyn, nadat hulle ’n matriekeksamen verlede week ontwrig het, het die SABC berig.
Hulle is elk op borgtog van R300 elk vrygelaat en die saak is tot 10 Desember uitgestel vir verdere ondersoek.
Die tien lede is van publieke geweld en aanranding met die doel om ernstig te beseer aangekla nadat eksamens in Langa, Khayelitsha en Philippi gedurende ‘n protes teen die sluiting van die Lagunya-afrondingskool, ontwrig is.
Sowat 176 leerders moes Vrydag hulle fisika-eksamen oorskryf nadat dié studente-organisasie hulle daarvan weerhou het.
Die Wes-Kaapse departement van onderwys het ‘n interdik teen Cosas ingestel.
Bronagh Casey, ‘n woordvoerder vir die departement het gesê die interdik verbied Cosas om enige byeenkoms binne ‘n afstand van 300m van enige eksamenlokaal te reël.
Hulle mag ook geen aktiwiteite by eksamenlokale steur nie en geen leerders of onderwysers aanval nie.
Die interdik verbied hulle ook om leerders van hulle eksamens te weerhou of skade aan geboue rig.
- Sapa