Intelligensiehoof: 'Ek is nie 'n misdadiger'
2011-10-07 14:24
Johannesburg – Die voormalige Gautengse misdaadintelligensiebaas, genl.maj. Joey Mabasa, het enige betrokkenheid by kriminele aktiwiteite ontken nadat dit aan die lig gekom het dat hy uit die polisie geskors is.
Mike Naraine, Mabasa se woordvoerder, het gesê daar is geen bewyse wat hom met enige kriminele aktiwiteite verbind nie.
"Indien iemand bewyse het, is hulle welkom om die bewyse te gebruik."
Mabasa het die trekpas gekry nadat sy naam opgekom het in die ondersoek na die moord op die Teazers-baas, Lolly Jackson, wat verlede jaar vermoor is.
Gerugte doen ook die ronde dat hy binnekort in hegtenis geneem gaan word vir sy betrokkenheid in Jackson se moord.
George Louka, oftewel George Smith, Jackson se beweerde moordenaar het na bewering die aand van die moord 'n oproep aan Mabasa gemaak waarin hy 'n bekentenis gemaak het.
Volgens berigte is Mabasa se kontrak verlede Vrydag gekanselleer
Kol. McIntosh Polela, polisiewoordvoerder, het gesê Mabasa is uit die polisie ontslaan omdat sy dienste nie meer benodig word nie.
Mabasa het gesê die enigste rede hoekom hy die ontslag aanvaar het, is omdat die polisie hom na Limpopo wou pos.
– Lees meer hier
– Volg Nuus24 op Twitter