Instrukteur gepos wat rekrute se hare skeer
2011-02-03 10:04
Durban – Die instrukteur wat verantwoordelik is dat polisierekrute by die Ulundi-polisiekollege afgeskeer is, is na die Ulundi-polisiekantoor verplaas, het die polisie in KwaZulu-Natal Donderdag gesê.
"Hy is na 'n polisiekantoor in Ulundi verplaas... hy werk nie meer by die kollege nie," het kol. Vish Naidoo gesê.
Binne drie dae wat polisierekrute se hare afgeskeer is, het Chantal Young (27), een van die rekrute, ernstige sonbrand opgedoen en moes sy mediese behandeling ontvang.
Naidoo het gesê die polisiemag word nie toegelaat om rekrute te dwing om hul hare af te skeer nie.
"Polisiemanne moet hul hare kort hou, terwyl vroulike polisiebeamptes aangeraai word om hul hare kort te hou om ongemak te verhoed. Dit is hul keuse om hul hare kort te hou."
Young se pa, Antoon, het Dinsdag gesê sy dogter het mediese hulp gesoek, maar is gesê omdat sy nog nie 'n lid van die polisie se mediese fonds is nie, kon sy nie 'n dokter sien nie.
Hy het gesê meisies wat geweier het om hul hare af te skeer, is gestraf met fisieke oefening.
Die ander vroulike rekrute het geld bymekaar gemaak sodat Young 'n dokter kon sien.
Naidoo het ontken dat Young mediese aandag geweier is, en sê 'n verpleegster by die kollege het haar gesien, waarna sy 'n plaaslike dokter in Ulundi gaan spreek het.
Naidoo het gesê "departementele ondersoeke" gaan voort.
Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA