Inligtingwet ‘sal navorsing aan Ikeys in die wiele ry'
2010-08-23 07:36
Kaapstad. – Herskryf die wetsontwerp, of ons sal dit ten sterkste teenstaan.
Só het dr. Max Price, visekanselier van die Universiteit van Kaapstad, gister oor die Wetsontwerp op die Beskerming van Inligting gesê.
“Die universiteit moet inmeng in die debat, want die gevolge van beperkte toegang tot inligting maak inbreuk op die universiteit se vermoë om navorsing te doen en openbare beleid te ontleed.”
Die wetsontwerp is “veronderstel” om ’n balans te verseker tussen die land se veiligheid en die beskerming van die publiek se reg tot kennis en toegang tot inligting.
Daar is egter verskeie redes waarom die universiteit nie die wetsontwerp kan ondersteun nie, waaronder:
* Die gronde waarop inligting as “vertroulik”, “geheim” en “hoogs geheim” geklassifiseer kan word, het die “potensiaal om deursigtigheid en verantwoordbaarheid te ondermyn”.
* Daar “is nie meganismes om misbruik te voorkom nie”.
* Die wetsontwerp “is nie in ooreenstemming met” die doelstellings van die Wet op Beskermde Onthullings, die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting en die Maatskappyewet nie.
Daarom kan vordering op die gebied van toegang tot inligting “weggevreet” word omdat dit moeiliker sal wees om toegang te kry tot inligting en moeiliker vir fluitjieblasers om inligting oor onreëlmatighede en korrupsie bekend te maak.
Die universiteit doen ’n beroep op die regering om die wetsontwerp te herskryf en stel dit onomwonde dat indien dié kwessies nié opgelos word nie, hy die wetsontwerp met mening sal teenstaan.
Volg Nuus24 op Twitter