Inligtingswetsontwerp in geheel aanvaar
2011-09-06 07:00
Kaapstad – “’n Slag vir Suid-Afrika se demokrasie.”
Dít was die reaksie van David Maynier (DA) nadat die omstrede inligtingswetsontwerp Maandag in sy geheel aanvaar is.
Vier opposisie-LP’s, wat in die ad hoc-komitee gemoeid met die Wetsontwerp op die Beskerming van Inligting dien, het teen die wetsontwerp gestem.
Die wetsontwerp is uiteindelik op grond van die ANC se meerderheidstem aanvaar.
Opposisiepartye se grootste beswaar is die uitsluiting van ’n verweer van “openbare belang” wat joernaliste en verklikkers sou kon beskerm wanneer hulle geheime inligting bekend maak.
Opposisie-LP’s sal na verwagting binnekort ’n versoekskrif aan pres. Jacob Zuma rig en hom vra om nie die wet te onderteken nie.
“Ons het lank en hard aan dié wetsontwerp gewerk,” het Maynier ná Maandag se vergadering gesê. “Dit is so jammer dat ons nie die ‘openbare belang’-verweer ingesluit kon kry nie.”
Die komiteevoorsitter, Cecil Burgess (ANC), het ten slotte gesê hy is oortuig dat elke moontlike stap gedoen is om te verseker dat die wetsontwerp die Grondwet-toets sal slaag.
“Ek kan nie insien waarom die establishment verder belas moet word deur te moet bepaal of die wetsontwerp grondwetlik is of nie,” het hy gesê.
“Ek hoop diegene wat wel sulke voornemens het, sal deeglik daaroor gaan nadink.”
Maandag se laaste komiteevergadering oor die wetsontwerp het egter nie sonder wrywing verloop nie.
Veral dr. Mario Oriani-Ambrosini (IVP) het deurgeloop toe hy Burgess versoek het om die opposisie se punte van kommer in sy verslag oor die wetsontwerp te vermeld.
Hlengiwe Mgabadeli (ANC) het hom toegesnou: “Ons is nie bang vir jou nie!”
Die wetsontwerp word nou verwys na die Nasionale Vergadering, waar LP’s daaroor debat sal voer.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Volksblad