Inligtingswet nié voor Nasionale Vergadering
2011-09-19 15:10
Kaapstad – Die omstrede wysigingswetsontwerp op die beskerming van inligting sal nie meer Dinsdag in die Nasionale Vergadering bespreek word nie, het Pieter du Toit, nuusredakteur van Beeld, via Twitter berig.
Die wetsontwerp bepaal onder meer dat inligting wat die staat as geheim klassifiseer, nie gepubliseer mag word nie en dadelik aan die polisie gegee moet word.
Gwede Mantashe, sekretaris-generaal van die ANC, het vroeër Maandag gesê dat die goedkeuring van die wetsontwerp vertraag kan word.
"Dit is nie 'n kwessie van om dit op ys te plaas nie. Daar mag dalk 'n vertraging wees," het hy aan Sapa gesê.
Die amptelike rede wat na verwagting vir die vertraging gegee sal word, is dat die ANC nie genoegsame kans gegun is om intern oor die inhoud van die wetsontwerp te debatteer nie.
Die ANC sal die inhoud van die wetsontwerp aan ’n proses van interne ANC-debat onderwerp, het Die Burger vroeër berig.
– Volg Nuus24 op Twitter