Beveg inligtingswet in konstitusionele hof, sê oudregter
2011-11-22 23:01
Johannesburg – Suid-Afrikaners het die reg om die Wetsontwerp
op die Beskerming van Staatsinligting na die konstitusionele hof te neem indien
hulle voel dit maak inbreuk op hul regte, het die oudregter Kate O’Regan gesê.
“Indien mense voel dat die wetgewing nie met
die grondwet ooreenstem nie, is dit hul grondwetlike reg om dit na die konstitusionele hof te neem,” het sy gesê.
O’Regan het ‘n toespraak by die jaarlikse
Helen Suzman-gedenklesing in Johannesburg gelewer.
Sy het egter gesê dat sy nie kan sê of die
omstrede inligtingswet ongrondwetlik is of nie, aangesien sy dit nog nie self
gelees het nie.
Die Wetsontwerp op die Beskerming van
Staatsinligting is Dinsdag in die Nasionale Vergadering goedgekeur ten spyte van
vrae rondom die grondwetlikheid van dié wetsontwerp.
Die Helen Suzman-stigting het gesê die
wetsontwerp sal die grondwetlike demokrasie van die land ondermyn.
Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA