Inligtingswet kan in grondwethof draai, sê VF+
2011-02-21 19:18
“Die omstrede Wetsontwerp op die Beskerming van Inligting sal heel waarskynlik nie net in die Grondwethof betwis word nie, maar sal op 'n tegniese punt na die Parlement terug verwys word."
Só meen dr. Corné Mulder, VF Plus-hoofsweep.
“Die spesiale ad hoc komitee wat met die wetgewing in die Parlement werk en dit volgens die reëls van die Parlement voorberei om aan die Parlement voor te lê, bestaan dus nie meer nie.
Volgens Mulder het die mandaat van die ad hoc-komitee wat die wet oorweeg op 28 Januarie verval en was die adjunk-Speaker se verlenging daarvan buite die reëls van die parlement.
"Dit beteken dat 'n komitee wat nie meer bestaan nie voortgaan met werksaamhede," het Mulder in 'n mediaverklaring gesê.
Die VF Plus-sweep het ook gesê dat die grondwethof heel waarskynlik vanweë hierdie basiese tegniese oorsig deur die ANC-regering die wetgewing onkonstitusioneel sal verklaar.
Volgens Mulder is die ANC se senior leierskap verlede Woensdag in die parlement hieroor gewaarsku is, maar het politici hulle nie daaraan gesteur nie.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Nuus24