Inligtingswet het 'reuse-implikasies' vir grondwet
2011-11-22 11:35
Johannesburg – Die Wetsontwerp op die Beskerming van Staatsinligting het reuse-grondwetlike implikasies en moenie in sy huidige vorm bekragtig word nie, het die burgerlike organisasie Right2Know Dinsdag gesê.
Glenda Daniels, lid van dié organisasie, het buite Luthuli-huis in Johannesburg, waar 'n optog gehou is, gesê die media het reeds 'n voorsmaak van wat gaan gebeur indien die wetsontwerp bekragtig word.
Daniels het verwys na die onlangse aanklagte wat deur Mac Maharaj, presidensiële woordvoerder, teen die Mail & Guardian en twee joernaliste gebring het oor 'n storie.
"Ons sal nie ophou veg nie, en nee, ons het nie hoop verloor nie."
Sy het gesê die volgende opsie sal wees om die saak voor die konstitusionele hof te bring.
Die Nasionale Vergadering stem Dinsdag oor die wetsontwerp.
Optogte teen die wetsontwerp word in Johannesburg, Pretoria, Durban en Kaapstad gehou.
Die Nasionale Persklub het mense, wat gekant is teen die wetsontwerp, gevra om swart klere, 'n swart lint of swart armband te dra.
Die persklub het dié veldtog "Swart Dinsdag" genoem. Dít is gebaseer op wat bekend gestaan het as "Swart Woensdag" toe die apartheidregering twee koerante (The World en Weekend World), asook 17 swart politieke organisasies verbied het.
– Wat dink jy oor dié omstrede wetsontwerp? Is daar rede tot kommer oor mediavryheid in Suid-Afrika? Stuur jou geskrewe bydrae na terugvoer@nuus24.com vir publikasie.
– Is jy by 'n Swart Dinsdag-betoging? Stuur jou foto's na fotos@nuus24.com.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA