Inligtingswet dalk gou deurgevoer
2011-09-02 09:26
Kaapstad – Die ANC sal waarskynlik Vrydag sy meerderheid gebruik om die omstrede inligtingswet deurgevoer te kry.
Opposisiepartye het egter gister gesê hulle sal die Wetsontwerp op die Beskerming van Inligting verwerp wanneer daar vandag daaroor gestem word.
Die opposisie se grootste beswaar teen die konsepwetgewing spruit uit die ANC se onwilligheid om ’n verweer van openbare belang daarby in te sluit.
Só ’n verweer sal beskerming bied aan byvoorbeeld joernaliste wat geheime inligting in die openbare belang bekend maak.
David Maynier (DA) het gister by navraag gesê die DA sal ’n versoekskrif aan pres. Jacob Zuma rig om die wetsontwerp na die grondwethof te verwys as dit deur die parlement goedgekeur word.
“Ons het gehoop dat bepaalde buitengewone omstandighede waaronder die openbaarmaking van inligting geregverdig sou wees, by die wet ingesluit sou word, maar dit het nie gebeur nie.”
Steve Swart (ACDP) het gesê as die wetgewing vandag in sy huidige formaat deurgevoer word, sal dit joernaliste dwing om hul bronne bekend te maak.
“Die konsepwet bepaal dat enigiemand – ingesluit joernaliste – wat geheime inligting bekom, dit eers moet teruggee en dan spesiaal moet aansoek doen om dit te publiseer,” het Swart verduidelik.
“Dit sal beteken hulle moet sê by wíé hulle die geheime inligting gekry het.”
Die ANC het gedurende gister se beraadslagings ingewillig dat die opsie van ’n boete (en nie slegs tronkstraf nie) vir minder ernstige oortredings van die wet ingesluit word.
’n Ander betekenisvolle verandering is dat diegene wat inligting met opset klassifiseer ten einde korrupsie of enige misdrywe te probeer wegsteek, nié die opsie van ’n boete nie sal hê nie. Tronkstraf sal dus die skuldige se voorland wees.
Indien die wetsontwerp vandag ná stemming goedgekeur word, sal dit voor die Nasionale Vergadering dien om oor gedebatteer te word.
Verskeie instansies en belangegroepe het aangedui dat hulle die wetgewing vir grondwetlike hersiening sal verwys indien dit in die huidige vorm aangeneem word.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Volksblad