Inligtingswet: ANC se LP's het nie vrye keuse
2011-11-22 07:05
Kaapstad – Elkeen van die ANC se 264 parlementslede het opdrag gekry om vandag om 14:00 in die Nasionale Vergadering (NV) te wees en ten gunste van die omstrede Wetsontwerp op die Beskerming van Staatsinligting te stem.
Volksblad het vanuit verskeie oorde verneem ANC-LP’s het geen vrye keuse in dié verband nie. Die stemme gaan agterna “gekontroleer” word en dwarstrekkers sal “in groot moeilikheid beland”.
“Daar is ekstra druk op almal om daar te wees... daar word verwag dat almal daarvoor moet stem,” het ’n ingeligte gesê. “As jy dit nie doen (teen die wet stem) nie, is jy in groot moeilikheid.” Nog ’n persoon het bevestig daar is geen ruimte vir ’n “gewetenstem” nie en dat die ANC sy meerderheid in die NV wil inspan om die wetsontwerp te aanvaar.
Moloto Mothapo, die ANC-koukuswoordvoerder, het by navraag bevestig vanmiddag se sitting is verpligtend (’n sogenaamde drielyn-sweep). Volgens hom word dit net uitgevaardig vir “uiters belangrike sittings”.
Wat ’n gewetenstem betref, het Mothapo gesê LP’s verteenwoordig nie hulself nie, maar die ANC. Volgens hom het geen LP ’n beswaar gehad toe die wetsontwerp in September aan die koukus voorgehou is nie.
Die golf van burgerlike verset het Maandag momentum opgebou met landwye protesoptogte wat vir vandag beplan is en ’n oproep van die Suid-Afrikaanse Nasionale Redakteursforum aan teenstanders van die wet om swart te dra.
Die Right2Know-groep, die voorste vegters teen die wetsontwerp sedert dit op 9 Maart verlede jaar in die parlement ter tafel gelê is, het Maandagmiddag ook ’n pleidooi gerig tot adj.pres. Kgalema Motlanthe in sy hoedanigheid as leier van die regering in die parlement, om in te gryp en vandag se stemmery afgelas.
Dié organisasie, belangegroepe en die vakverbond Cosatu meen die wet is ongrondwetlik in die afwesigheid van ’n verweer van openbare belang om joernaliste en fluitjieblasers te beskerm.
Right2Know doen gevolglik ’n beroep op Motlanthe om beraadslagings oor die wetsontwerp van nuuts af oop te stel sodat ’n “behoorlike” openbare konsultasieproses kan plaasvind waarby ál die LP’s – “nie net die ANC nie” – betrokke is.
Die ANC het die wetsontwerp in September tydelik van die parlementêre program onttrek om sy eie konsultasieproses buite die parlement te volg.
Belangegroepe was onder die indruk dié proses sou die weg baan om die ad hoc-komitee gemoeid met die wetsontwerp weer in die lewe te roep om die wetsontwerp te wysig. Dit het egter nie gebeur nie.
Politieke partye sal vandag ’n geleentheid kry om hul standpunte te verklaar voordat die stemmery plaasvind.
Indien die wetsontwerp deur die NV aanvaar word, word dit na die Nasionale Raad van Provinsies (NRP) verwys. Die NRP kan op sy beurt wysigings voorstel waarna dit weer voor die NV moet dien.
Die wetsontwerp word eers ’n wet wanneer die president dit onderteken.
Volg Nuus24 op Twitter
- Volksblad