Inkomstegaping wek steeds kommer
2012-10-30 18:01
Kaapstad – Die skokkendste syfers in die Sensus 2011-dokument is die data oor die inkomstegapings tussen rasse- en geslagsgroepe, het Trevor Manuel, beplanningsminister in die presidensie, Dinsdag gesê.
Hoewel inkomstegapings groot is, het dit hom nie verbaas nie.
"Dit bevestig ons ergste vrese en ek dink dit verteenwoordig 'n enorme uitdaging...," het Manuel aan verslaggewers in Kaapstad gesê.
Die sensus het getoon dat die gaping in inkomste tussen wit en swart huishoudings steeds baie hoog is.
Swart huishoudings het in 2011 'n gemiddelde inkomste van R60 613 gehad.
In vergelyking hiermee het wit huishoudings gemiddeld ses keer meer verdien, met 'n verdienste van R365 134 per jaar.
Huishoudings waar die vrou die hoofbroodwinner is, het ook swak gevaar. Dié huishoudings het 'n gemiddelde inkomste van R67 330 gehad, vergeleke met die R128 329 vir huishoudings met mans as die hoofbroodwinner.
Manuel het gesê dis belangrik dat die staat, sake-ondernemings en burgerlike organisasies dié data in hulle beplanning gebruik.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA