Infowet-petisie van 1 km in Pta uitgerol
2012-01-20 09:10
Johannesburg – AfriForum het gister ’n beswaarskrif van 1 km lank teen die voorgestelde Wet op die Beskerming van Staatsinligting op die grasperk by die Uniegebou in Pretoria uitgerol.
Meer as 10 000 mense het dié petisie, wat uit ses papierrolle bestaan en saam meer as 50 kg weeg, onderteken.
Die veldtog is in Desember op die webwerf www.thebillstopshere. co.za van stapel gestuur en binne 48 uur het sowat 10 000 mense beswaar teen die voorgestelde wet aangeteken.
Die webwerf is intussen gesluit.
“Tot dusver is die publiek se besware teen die wetsontwerp botweg geïgnoreer,” het mnr. Ernst Roets, uitvoerende adjunkhoof van AfriForum, gesê.
“Met dié aksie het ons op ’n visuele manier vir die president uitgebeeld hoe sterk die publiek teen die wetsontwerp gekant is.
“Ondanks die publiek se protes het die ANC verlede jaar voortgegaan om die wetsontwerp deur die Nasionale Vergadering te stoomroller.”
Die Nasionale Raad van Provinsies moet die wetsontwerp nog goedkeur, waarna pres. Jacob Zuma dit moet onderteken voordat dit van krag word.
Roets het gesê die petisie is daarop gemik om die president oor te haal om die dokument nie te onderteken nie.
Volgens hom is die toegewings wat tot dusver deur die regering gemaak is te min om die publiek se kommer te besweer.
Roets het die rolle, die oorspronklike petisie met al die ondertekenaars se besonderhede en ’n memorandum van AfriForum gister aan die presidensie oorhandig.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Beeld