Inbrekers wat 'verdwyn' se lyke gevind
2011-10-15 12:56
Johannesburg – Die lyke van twee vermeende inbrekers is aan die voet van 'n krans in die Mid Illovo-distrik in Kwazulu-Natal gevind, het die polisie Saterdag gesê.
Die broers het Woensdag vermis geraak ná hulle na bewering deur 'n ontstoke huiseienaar en sy vriende in KwaMakhutha, suid van Durban, ontvoer is, het kol. Jay Naicker gesê.
Die mans het die broers daarvan beskuldig dat hulle by hul huis ingebreek het en waardevolle items gesteel het. Die groep het die twee broers glo in 'n voertuig gelaai en weggery. 'n Beweerde helper van die broers het daarin geslaag om weg te hardloop.
Bloedkolle en 'n bloeddeurdrenkte baadjie is Vrydag by die huiseienaar se eiendom gevind, het Naicker gesê.
Dit het die polisie uiteindelik na die lyke aan die voet van die krans gelei.
Twee mans is in verband met die voorval aangekla van moord.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA