Inbreker vas aan die slaap
2009-10-17 12:14
Johannesburg – Die Oos-Kaap polisie het ‘n 32-jarige man in hegtenis geneem wat na bewering in ‘n huis in Uitenhage ingebreek het en toe aan die slaap geraak het.
Sup. Priscilla Naidu het gesê die eienaar het omstreeks 18:30 by sy huis opgedaag en die ligte van sy pakkamer aangesien.
“Hy het daarna gaan ondersoek instel en met ‘n skok op ‘n deurmekaar kamer afgekom, asook ‘n vreemde man wat op die bed aan die slaap geraak het,” het Naidu gesê.
Hy het die man gevra wat hy daar maak. Die man kon egter nie met ‘n geldige verduideliking opkom nie en die eienaar het die polisie in kennis gestel.
Hy sal na verwagting Maandag in die landdroshof in Uitenhage verskyn.
- Sapa