Inbreker spring in see
2010-09-28 11:05
Kaapstad - ‘n Inbreker word vermis nadat hy Dinsdag van ‘n muurtjie by die promenade in Seepunt, Kaapstad, gespring en die see in verdwyn het, het die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) gesê.
Die NSRI is omstreeks 03:30 uitgeroep om die polisie by te staan toe dit blyk dat die man die water in gespring het en moontlik deur die see meegesleur is, het Craig Lambinon, NSRI-woordvoerder, gesê.
Die NSRI het teen 06:30 ophou soek toe niemand op die strand of in die water gevind is nie.
Volgens Lambinon is dit onwaarskynlik dat die man deur die see meegesleur is, aangesien dit laagwater was.
Ao. Bheki Xulu van die polisie het gesê hulle is steeds op soek na die inbreker.
“Ons kyk by al die hospitale, maar ons dink hy kruip dalk steeds tussen die rotse weg.”
Die man en sy makker het Maandagnag by ‘n woonstel in Seepunt probeer inbreek.
Die 18-jarige medepligtige is in hegtenis geneem nadat inwoners van die woonstel hom agternagesit het, het Xulu gesê.
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA