Inbreker in huis toegesluit
2011-09-28 09:07
Upington – ’n Vermeende inbreker wat in ’n huis toegesluit is nadat inwoners ná die inbraak sy voetspore tot by die huis gevolg het, is in hegtenis geneem nadat die polisie die deurslot oopgeknip het.
Die gesteelde goed, waaronder ’n plasma-TV en ander elektroniese toerusting, is in die huis gekry.
Ao. Marina Brewis, woordvoerder van die Paballelo-polisiekantoor, sê die man het aan die polisie, wat onder leiding van sers. Donovon Taaibos op die huis in die Loverslane-plakkerskamp toegeslaan het, gesê hy is deur iemand anders in die huis toegesluit en het nie die sleutel nie.
Die polisie het die slot aan die deur oopgeknip en die gesteelde eiendom is in die huis gekry.
Die polisie is ontbied nadat inwoners ná die ontdekking van die inbraak die verdagte se spore na die huis gevolg het.
In ’n ander voorval is goedere van sowat R13 000 uit ’n huis in Paballelo gesteel nadat toegang deur ’n gebreekte venster gekry is.
Niemand is nog in verband met dié voorval in hegtenis geneem nie.
Twee polisielede is aangerand toe hulle ’n klag van oproerigheid in Pronkertjiestraat in Paballelo gaan ondersoek het.
Een van die polisielede het die huis met ’n flitslig binnegegaan omdat daar geen elektrisiteit was nie. Die aanrander het die flitslig afgeneem en die polisielid daarmee oor die kop en in die gesig geslaan.
’n Gestoei het ontstaan om die aanrander in bedwang te bring en ’n tweede polisielid is beseer.
’n Klag van aanranding met die doel om ernstig te beseer, met ’n alternatiewe klag van opsetlike saakbeskadiging, word ondersoek.
’n Gesin van Paballelo het alles verloor toe hul huis afgebrand het. Die eienaar het na bewering die middag geslaap nadat hy en sy broer kos gekook het.
Die brand is vermoedelik veroorsaak deur ’n tweeplaatstofie wat foutief was. Die man is deur sy broer wakker gemaak toe die brand ontstaan het.
Hulle het die brand self probeer blus, maar kon nie daarin slaag nie. Die man het met sy dogtertjie uit die huis gevlug.
Brewis sê die polisie samel nou klere, huishoudelike goed en eetgerei vir die gesin in. Mense wat kan help, kan haar bel by 082-448-7054.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Volksblad