Inbreker gestenig: 3 vas
2011-12-29 07:45
Durban – ’n Man en sy twee susters is in die suide van KwaZulu-Natal in hegtenis geneem nadat hulle ’n inbreker op heterdaad betrap en hom toe glo aangerand en gestenig het.
Bure van die 35-jarige man en sy twee ouer susters van die Dayi-gebied in Umzimkhulu het gesien wat gebeur en die polisie gebel, het lt.kol. Vincent Mdunge, polisiewoordvoerder, gesê.
Die drie het die 27-jarige man op Kersoggend betrap toe hy glo by hul huis probeer inbreek het.
Hy is toe blykbaar na die beeskraal geneem, waar hy geskop en met die vuis in die gesig geslaan is voordat hy met klippe doodgegooi is.
“Die man was al dood toe die polisie opdaag,” het Mdunge gesê.
Die drie verdagtes sal eersdaags in die hof verskyn.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Beeld