Inbreker doodgesteek toe hy by huis inbreek
2011-11-14 09:12
Kimberley – Ná twee huisbrake die afgelope naweek in Kimberley is ’n vermeende inbreker dood, ’n huisbewoner van moord aangekla en ’n 80-jarige wewenaar beroof en erg aangerand.
Die huisbewoner en wewenaar is albei erg getraumatiseer, sê konst. Sergio Kock, die woordvoerder van die polisie.
Kock sê ’n inbreker het na bewering Sondag omstreeks 03:00 in Verwoerdpark by ’n tuinwoonstel ingebreek.
Die 67-jarige bewoner wat alleen bly, het wakker geword toe hy hoor ’n venster word gebreek. Hy het opgestaan en die verdagte halflyf deur die venster sien hang.
Hy het die naaste mes gegryp en die man na bewering een keer gesteek.
Die man het op die vlug geslaan, maar op die grasperk neergesak. Die inwoner het die polisie gebel. Hulle het die vermeende inbreker dood aangetref.
Die polisie het ’n saak van moord en huisbraak geopen. Die moordsaak word na die senior staatsaanklaer verwys vir ’n beslissing.
Die polisie vra dat enigiemand met inligting na vore kom. Die oorledene is ongeveer 30 jaar oud, 1,7 m lank en het ’n bruin gelaat. Hy het ’n wit T-hemp met ’n blou kraag, grys kniebroek en beige All Star-tekkies aangehad.
Die polisie het ook ’n bloedbevlekte geel glimbaadjie op die toneel gevind.
Twee inbrekers het ook Sondagoggend in Hadison Park toegeslaan en ’n 80-jarige man beroof en erg aangerand.
Kock sê die mans het omstreeks 02:00 ingebreek en toegang deur ’n badkamervenster gekry.
Die 80-jarige eienaar het wakker geword met ’n lem teen sy keel. Die een vermeende inbreker, wat Afrikaans gepraat het, het die ou man met die vuiste toegetakel.
Die inbreker het ’n klapmus gedra. Hy het die inwoner se hande en voete met verbande vasgemaak.
Die inbreker het die kluis se sleutels wat in die klerekas weggesteek was, ontdek. Hy het ’n rewolwer-windbuks, kontant en juwele gesteel.
Die huiseienaar vermoed daar was twee mans in die huis. Hy het glo die ander inbreker in die huis gehoor.
Die vermeende diewe het vermoedelik die paniekknoppie per ongeluk gedruk toe hulle die kombuisligte wou aanskakel.
Die sekuriteitsmaatskappy het opgedaag en die vasgebinde man ontdek. Hy het verskeie wonde aan sy gesig en arms gehad.
Die diewe het gevlug.
Die beseerde man is in die hospitaal opgeneem. Hy is erg getraumatiseer, maar in ’n stabiele toestand.
Lesers met inligting oor die twee inbrake kan ao. Patrick Dibebe by 082-331-4712 bel.
Volg Nuus24 op Twitter
- Volksblad