Inbraak by Selebi se huis
2011-06-26 09:30
Johannesburg – Daar is by die voormalige polisiekommissaris, Jackie Selebi, se huis in Waterkloof, Pretoria, ingebreek, het polisie in Gauteng Sondag gesê.
Volgens lt. kol. Tshisikhawe Ndou het die inbrekers toegang tot die huis verkry deur die hek van sy spoor te lig.
“Dit was nie ‘n rooftog nie, dit was huisbraak en diefstal,” het hy gesê.
Die rowers het glo weggekom met elektroniese toestelle insluitende ‘n plasma televisiestel, ‘n skootrekenaar en buitelandse munte.
Selebi was nie ten tyde van die inbraak tuis nie. Sy vrou het ‘n wit Volkswagen Polo buite hul huis geparkeer gesien toe sy Saterdag rondom 18:30 by die huis aangekom het.
“Daar was geen skote nie, niemand is met ‘n vuurwapen aangehou nie,” het Ndou gesê.
Hy het bygevoeg dat die inbraak nie verbind word met die inbraak by die Gautengse polisiekommissaris, Mzwandile Petros, se huis in Bryanston nie.
“Hierdie is twee aparte voorvalle, hulle word glad nie met mekaar verbind nie. Die een het in Johannesburg plaasgevind en die ander een in Pretoria,” het hy gesê.
Daar is Vrydagaand by Petros se huis ingebreek. ‘n Formele ondersoek in die inbraak het reeds begin.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA