Inbraak by SAPD se forensiese laboratorium
2011-01-11 23:00
Johannesburg – Die Valke het ‘n ondersoek van stapel gestuur ná afloop van ‘n inbraak by die SAPD se forensiese laboratorium in Port Elizabeth, het die polisie in die Oos-Kaap gesê.
“Vyf gewapende mans het Maandagaand via die kelder toegang tot die perseel verkry. Hul het die sekuriteitswagte glo aangehou,” het lt. kol. Sibongile Soci, polisiewoordvoerder, gesê.
‘n Presiese lys van wat alles tydens die rooftog gebuit is, is nog nie bekend nie. Die polisie het gerugte ontken dat vuurwapens gesteel is.
Die vermoede bestaan dat die inbraak verband hou met dwelms.
“Ons hoop om binnekort die verdagtes vas te trek,” het Soci gesê.
“Die verdagtes het daarin geslaag om die alarm te deaktiveer. Dit is duidelik dat die verdagtes deur verskeie dokumente gegrawe het.”
Die vyf mans het omstreeks 01:00 Dinsdagoggend gevlug in ‘n wit Isuzu-bakkie.
Niemand is in die voorval beseer nie.
Die sekuriteitswagte is vir ondervraging ingeroep.
“Alle luidrade word opgevolg en dit is net ‘n kwessie van tyd voordat die skuldiges vasgetrek sal word,” het Soci gesê.
Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA