Ina Bonnette getuig weer oor gruweldade
2012-11-21 07:13
Johannesburg – Ina Bonnette, die eksvrou van die sogenaamde Modimolle-monster, sal in die Pretoriase hooggeregshof onder kruisverhoor geneem word.
Verrigtinge is Dinsdag uitgestel kort nadat sy die aanval in Januarie vanjaar aan die hof beskryf het.
Johan Kotzé word daarvan beskuldig dat hy beplan het om drie mans te huur om haar te verkrag. Waarnemende regter Bert Bam het egter namens Kotzé 'n pleit van onskuldig aangeteken op sewe aanklagte van onder meer verkragting, ontvoering, poging tot moord en moord.
"In 'n stadium het hy 'n tang uit sy sak gehaal en my tepel gedraai. Ek het inplantings ingehad, maar dit was baie, baie erg. Dit was ondraaglik," het Bonnette aan die hof gesê.
Sy het verder getuig dat Kotzé haar drie vermeende verkragters gedwing het om haar met voorwerpe, insluitend spykers en 'n skroewedraaier, te vermink.
Kotzé het toe haar 19--jarige seun, Conrad Bonnette doodgeskiet.
Andries Sithole, Pieta Mohlane en Frans Mphaka, die drie mans wat daarvan beskuldig word dat hulle Bonnette verkrag het, het onskuldig gepleit op dieselfde aanklagte as Kotzé.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA