In sop oor lied wat Mandela beledig
2009-10-28 12:43
Johannesburg – Falcon-sekuriteitsmaatskappy het een van hul bestuurders die trekpas gegee, terwyl ‘n ondersoek aan die gang is oor ‘n CD wat in die publiek gespeel is en oudpres. Nelson Mandela beledig het.
“Ons verstaan dat mense wat na die CD geluister het woedend en ontsteld is. Die CD is gespeel sonder goedkeuring van Falcon sekuriteit,” het Ben Burger, hoof uitvoerende beampte van die maatskappy in ‘n verklaring gesê.
“Die maatskappy beskou die landslied, Nkosi Sikelela as een van ons skatte, en ons sal nooit die maak van die cd goedpraat nie. Ons betreur die voorval, en die skade wat dit aan enigeen gedoen het wat daarna geluister het.”
Burger is op borgtog van R1 500 vrygelaat nadat hy op aanklagte van crimen injuria verskyn het
In sy verklaring, wat deur ‘n menslike hulpbronne maatskappy vrygestel is, het hy gesê hy was by ‘n personeel potjiekos familiedag by Sun City, en verskeie CD’s is gespeel gedurende die dag.
Volgens hom het hy nie ‘n 15-sekonde greep van die liedjie gehoor nie, en was hy ook nie naby die staanplek waar dit gespeel het nie. Maar hy was deur polisiebeamptes omring nadat iemand oor die liedjie gaan kla het.
Hy het die cd in ‘n drom gegooi en gesê hy verstaan nie hoekom hy in verband met die voorval in hegtenis geneem word nie, omdat hy onskuldig was.
Volgens die polisie word daar beweer dat Burger gedurende die kompetisie ‘n CD gespeel het, wat ‘n vermengde weergawe van die landslied bevat, en oudpres. Nelson Mandela ‘n ‘kaf**r’ noem.
Intussen is Warren Alberts, bedryfsbestuurder van die maatskappy vir die afgelope 14 jaar, geskors.
Volgens Burger het Alberts gesê hy was nie bewus van die inhoud van die cd nie.
“Alberts het in ‘n beëdigde verklaring gesê hy was nie bewus van die inhoud van die cd nie, maar ons het hom geskors terwyl die voorval ondersoek word,” het Burger gesê.
“As ‘n maatskappy verwerp ons enige vorm van rassisme, en ons sal alles in ons vermoë doen om ons steun vir ‘n nie-rassige Suid-Afrika te gee.”
Die maatskappy gaan ook saam met die polisie werk.
“’n Volledige ondersoek is reeds aan die gang, en sodra ons presies weet wat gebeur het, gaan ons ‘n volledige verklaring uitreik.”
- Sapa