In 19 SA skole dop al die matrieks
2010-09-25 11:19
Beeld
Altesame 506 skole het verlede jaar ’n matriekslaagsyfer van tussen 0% en 20% gehad en 19 het 0% gekry.
Die departement van basiese onderwys het dié syfers vir provinsies en die redes waarom skole wanfunksioneel is dié week in reaksie op ’n vraag in die parlement bekendgemaak.
Die meeste wanfunksionele skole is in Limpopo (186), gevolg deur KwaZulu-Natal (119), die Oos-Kaap (108), Mpumalanga (70), Gauteng (11), Noordwes (5), Vrystaat (4), Noord-Kaap (2) en die Wes-Kaap (1).
Die departement het gesê uit die verslae van die onderskeie provinsies is die volgende redes vir onderpresterende skole geïdentifiseer:
’n Gebrek aan leierskap by hoofde wat nie die nodige bestuursvaardighede het nie en nie toesig oor onderwysers en leerlinge se werk kan hou nie;
Skoolbestuurspanne wat nie hul rolle en verantwoordelikhede verstaan of kan toesien dat die kurrikulum uitgevoer word nie;
Vakante onderwysersposte wat onderrig belemmer;
Afwesigheid en laatkommery onder onderwysers wat kontaktyd met leerlinge en onderrig beperk;
Leerlinge wat probleme het wat verband hou met afwesigheid, alkohol- en dwelmgebruik, swak dissipline en tienerswangerskappe;
Swak kurrikulumbeplanning wat veroorsaak dat ontoepaslike vakke en vakkombinasies aangebied word;
Ondoeltreffende roosterbeplanning;
Gapings in onderwysers se vakkennis;
’n Gebrek of tekort aan handboeke en relevante leerlingondersteuningsmateriaal; en
Gebrekkige ondersteuning deur skoolbeheerliggame en ouers.
Hoewel provinsies dit nie uitgewys het nie, meen die departement daar is ook gevalle waar steun deur distrikskantore onvoldoende is.
“Skole is aan hul eie lot oorgelaat om verbeteringsplanne toe te pas terwyl hulle nie die vermoë het om dit te doen nie,” het die departement gesê.
Die departement het in reaksie op die bevindings oor wanfunksionele skole ’n “vinnige assesserings- en remediërende inisiatief” ontwikkel om in te gryp.
Dit behels onder meer korttermynoplossings wat verbeterde infrastruktuur, bestuur, mense- hulpbronontwikkeling en onderwysontwikkeling insluit.
- Beeld