Immigrante in Limpopo aangeval
2011-08-10 21:33
Johannesburg – ‘n Bangladesjiese winkeleienaar is Woensdag beroof en aan die brand gesteek in Dennilton, Polokwane, het die polisie gesê.
Volgens lt. kol. Mohale Ramatseba is die 35-jarige man van sy geld, kruideniersware en selfoon beroof voordat hy met paraffien natgegooi en aan die brand gesteek is.
Die man het in sy winkel geslaap toe drie mans die winkel deur die dak binnegekom het. Hy het ernstige brandwonde opgedoen en is in die hospitaal opgeneem.
Niemand is in hegtenis geneem nie.
In ‘n afsonderlike voorval is ‘n Zimbabwiese paartjie Woensdag beroof en die vrou verkrag by hul huis in Musina, Limpopo, het die polisie gesê.
Volgens Ramatseba het twee gewapende mans en ‘n ander man met ‘n byl die paartjie se kamer omstreeks 02:00 binnegegaan.
Hulle het die man se regterhand afgekap en twee van die mans het die vrou verkrag.
Hulle het die paartjie se paspoorte en geld gesteel, het Ramatseba gesê.
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA