Ier tronk toe wat SA’ner slegsê
2011-10-09 16:59
Dublin – ‘n Ierse man is twee maande gevangenisstraf opgelê in die Dublin-distrikshof nadat hy rassistiese aanmerkings teenoor ‘n Suid-Afrikaanse verkiesingskandidaat gemaak het, het die plaaslike media berig.
Michael Walsh (61) se vonnis is Vrydag opgelê nadat hy vroeër die onafhanklike kandidaat Patrick Maphose (43) aangesê het om “van sy straat af te kom”. Hy het ook gesê “swart mense maak hom siek”, het Ierland se Herald-koerant berig.
Walsh ontken die aantygings en dring daarop aan dat hy bloot aan Maphoso gesê het om te “f**of”, aangesien hy ‘n afkeer van alle politici het.
Die hof in Dublin het gehoor hy het sy opmerking gemaak in dieselfde tyd dat ‘n buurman, Michael Lawlor (28), na bewering gedreig het om Maphoso te skiet. Lawlor is sedertdien oorlede.
Walsh is daaraan skuldig bevind dat hy op 28 April 2009 dreigende en beledigende gedrag openbaar het. Hy het onskuldig gepleit, het die Herald berig.
Maphoso het in Mei aan Sapa gesê hy was ‘n aktivis teen apartheid. Hy het die strafregtelike klag teen die twee mans aanhangig gemaak.
Hy is sedert 2001 in Ierland en het ‘n sekuriteitsmaatskappy bestuur. Hy is ‘n Suid-Afrikaanse burger en ‘n “Ierse inwoner”. Die land se wette laat buitelanders toe om hulself vir plaaslike raadsverkiesings beskikbaar te stel.
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA