IWMSA hoof by ondersoek betrek
2009-11-30 23:34
Johannesburg - Die president van die Suider-Afrikaanse instituut vir afvalbestuur (IWMSA), Vincent Charnley, is gevra om uit sy amp te tree totdat die ondersoek na die onwettige storting van mediese afval in Welkom in die Vrystaat, afgehandel is.
Dié aankondiging volg nadat die Groen Skerpioene (die omgewingsbestuurs-inspektoraat) tydens klopjagte, tonne mediese afval in Welkom ontdek het.
Charnley word by die ondersoek na die onlangse storting van mediese afval, wat deur die Groen Skerpioene geloods is betrek, het IWMSA in ‘n verklaring gesê.
“…Wasteman Group, ‘n lid van die IWMSA, word ook ondersoek…[dié groep] is deur IWMSA geskors terwyl die ondersoek voortduur.”
Stan Jewaskiewitz, die adjunk-president van IWMSA, het gesê die Groen Skerpioene geniet sy organisasie se volle samewerking.
“Ons sal hulle ondersteun met enige inligting wat hulle nodig mag hê sodat hierdie kwessie so spoedig moontlik opgelos kan word en die skuldige partye aan die pen kan ry,” het Jewaskiewitz gesê.
Die Groen Skerpioene het klopjagte op altesaam 150 hospitale en klinieke uitgevoer, en gevind dat honderde tonne afval vanaf twee fasiliteite in KwaZulu-Natal en Noordwes, na die Maximus Bricks-bouplek geneem is om onwettig begrawe te word.
Die afval wat ontdek is, het nageboortes, fetusse en geamputeerde arms en bene bevat.
Onder die afval is ook naalde, gebruikte mediese handskoene en bloedbesmeerde klere ontdek.
- Sapa