IVP wil SABC se Mokoetle ondersoek
2010-01-04 19:02
Kaapstad – Die IVP vra vir ’n dringende ondersoek na aantygings teen die SABC se nuwe hoof- uitvoerende beampte, mnr. Solly Mokoetle.
Mokoetle, wat tussen 2001 en 2006 as die uitsaaier se hoof- bedryfsbeampte gedien het, is sedert 1 Januarie weer op ’n vyf-jaar-kontrak aangestel.
Hy is volgens berigte by die openbare uitsaaier weg ná ‘n verdoemende verslag in 2005 deur Gobodo Forensic and Investigative Accounting saamgestel is.
Volgens die Sunday Times het die verslag bevind Mokoetle het nie sy verantwoordelikhede by die maatskappy nagekom nie.
Die koerant het ook berig die nuwe SABC-raad beplan om die uittredende raad se aanstelling van Mokoetle, wat ook deur die minister van kommunikasie, mnr. Siphiwe Nyanda, goedgekeur is, teen te staan.
Die IVP-woordvoerder Musa Zona het Maandag gesê die Gobodo-verslag het onthul dat die SABC se opdraggewende departement, wat direk aan Mokoetle verslag gedoen het, ongeveer R56 miljoen aan maatskappye wat in tenderonreëlmatighede betrokke was, betaal het.
Zondi het aan die Sunday Times gesê die aantygings is ontstellend, en dat dit die hoop dat die SABC sy probleme en skandale van die afgelope paar jaar ontgroei het, vertroebel.
Dit was belangrik dat daar “nie eers ’n sweempie skandaal rondom die nuwe uitvoerende beampte is nie, omdat die geduld van die publiek besig is om min te raak, en vertroue in die openbare diens so gou moontlik herstel moet word”, het hy gesê.
–Sapa