'IVP moet geweld veroordeel'
2011-07-04 23:02
Johannesburg – Die ANC in KwaZulu-Natal het Maandag ‘n beroep op die IVP gedoen om in die openbaar die gebruik van geweld deur lede van politieke partye te veroordeel.
“Die ANC doen ‘n beroep op die IVP om in die openbaar die naakte gebruik van geweld as ‘n politieke wapen te veroordeel,” het die ANC se provinsiale sekretaris, Sihle Zikalala, gesê.
IVP-lede het na bewering Sondag ‘n ANC-saamtrek in Umlazi T Section ontwrig.
Drie mans is Sondag in hegtenis geneem. Hulle is Maandag op borgtog vrygelaat.
Hulle sal weer op 28 Julie in die hof verskyn op aanklagte van openbare geweld en die afvuur van ‘n vuurwapen.
Die polisie het rubberkoeëls gebruik om woedende IVP-lede Sondag uitmekaar te jaag. Hulle het die partye se slagspreuke in dreunsang uitgeroep buite die lokaal waar die ANC-saamtrek gehou is.
Umlazi T-Section was voorheen ‘n vesting van die IVP.
Zikalala het gesê die regerende party verstaan nie die IVP se vyandigheid nie en dat die IVP die wyk in ‘n vrye en regverdige verkiesing verloor het.
“Die gedrag van die IVP-ondersteuners is onaanvaarbaar. Alle deelnemers aan ‘n verkiesing moet die uitslag van die demokratiese proses aanvaar en die wil van die mense respekteer.”
Die LUR vir gemeenskapsveiligheid, Willies Mchunu, het ook die voorval veroordeel.
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA