IVP: Semenya is verneder
2009-08-22 15:28
Johanneburg – Die IVP het die behandeling van die 800m-ster-atleet Caster Semenya veroordeel en dit as “vernederend” bestempel.
Connie Zikalala, die IVP se woordvoerder vir vrouesake, het Saterdag in ’n verklaring gesê dié party steun die parlementêre portefeuljekomitee oor sport en ondersteuning se klag by die Verenigde Nasies se Kommisaris vir Menseregte oor ’n geslagstoets wat die atleet moet ondergaan.
“Die onsensitiewe behandeling van me. Semenya se geslagstoets ondermyn nie net vir Atletiek Suid-Afrika nie, maar plaas internasionale kwessies in ’n swak lig.”
“Die IVP is nie teen wettige bloedtoetse wat op atlete gedoen word nie, maar die toets op Semenya is verdag en skend haar privaatheid. Dit dui op jaloesie en diskriminasie.”
Sy het gesê die wêreldgemeenskap moenie toelaat dat hy in Middeleeuse praktyke verval om ’n persoon op grond van sy of haar gelaatstrekke uit die samelewing te verwerp nie.
– Sapa