ID-selfmoord: Minister by begrafnis
2009-09-03 05:51
Durban- Dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, minister van binnelandse sake, sal Donderdag die begrafnis bywoon van ‘n man wat selfmoord gepleeg het nadat hy nie ‘n identiteitsdokument (ID) kon kry nie.
“Ek kan bevestig dat die minister die begrafnis sal bywoon,” het Ronnie Mamoepa, woordvoerder van die departement, gesê.
Dlamini-Zuma het glo in trane uitgebars toe sy die nuus van die jong man se dood aangehoor het.
“Ek werk al baie jare vir haar en dit was die eerste keer wat ek die minister hoor huil het,” het Mamoepa gesê.
Die begrafnis sal om 10:00 in Nqetho naby Hillcrest plaasvind.
S'khumbuzo Mhlongo het homself verlede week gehand nadat hy nie ‘n ID kon kry nie.
In sy selfmoordbrief het hy geskryf dat ‘n amptenaar by die departement van binnelandse sake in Pinetown sy aansoek om ‘n ID opgeskeer het. Vir Mhlongo het dit beteken dat hy nie ‘n werk sal kan kry nie.
–Sapa