ID-bedrogverdagte verskyn in hof
2011-06-20 19:59
Johannesburg – ‘n Man wat daarvan beskuldig word dat hy amptelike dokumente vervals het, het Maandag in die hof vir kommersiële misdade in Johannesburg verskyn, het die polisie in Gauteng gesê.
Die 44-jarige man, oorspronklik van Ghana, sal in aanhouding bly tot sy volgende hofverskyning op 28 Junie, het lt. kol. Lungelo Dlamini gesê.
Hy is Vrydag in hegtenis geneem tydens ‘n polisieklopjag op twee huise in Yeoville. Die polisie het op skoon visas, rubberstempels vir die departement van binnelandse sake in Johannesburg en Germiston, sekuriteitslint vir nuwe paspoorte, bestuurderslisensies van Zambië, Angola, Brasilië en Namibië en vervalste banknote van Amerika en Suid-Afrika afgekom.
Die man het na bewering probeer om ‘n omkoopprys van R3 000 aan die polisie te betaal.
Hy word aangekla van oortredings wat verband hou met die wet op vervalste goedere, omkopery en opsetlike saakbeskadiging.
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA