Hyde Park-rooftog: 4 vas
2009-12-10 13:00
Johannesburg - Die polisie in Soweto het vier mense in hegtenis geneem ná 15 mans die Hyde Park-winkelsentrum in Johannesburg beroof het.
Insp. Kay Makhubela, 'n polisiewoordvoerder, het gesê die vier verdagtes is in Bram Fischer, Dobsonville, in hegtenis geneem terwyl hulle rekenaars wat by die Hyde Park-winkelsentrum gesteel is, afgelaai het.
"Ses nuwe rekenaars, klanktoerusting en skootrekenaars is in die verdagtes se besit gevind," het Makhubela gesê.
Die polisie het ook beslag gelê op 'n vuurwapen.
"Ons vermoed dat hulle vanoggend in 'n rooftog betrokke was," het Makhubela gesê.
Vyftien mans wat met AK47-aanvalsgewere gewapen was, het Donderdagoggend by die Hyde Park-winkelsentrum in die noorde van Johannesburg ingebreek.
“Omstreeks 04:30 vanoggend het 15 verdagtes die sekuriteitsdeur by die ingang van die Hyde Park-winkelsentrum gebreek en die sentrum binnegegaan. Hulle het op sekuriteitswagte geskiet, wat op hulle beurt teruggeskiet het,” het insp. Moses Maphakela gesê.
“Die verdagtes het by ‘n winkel ingebreek en klere, waarvan die waarde nog nie bepaal is nie, gesteel.”
Maphakela het gesê terwyl van die rowers by die winkel ingebreek het, het die res op die wagte geskiet.
Die oortreders het in ‘n silwer Mercedes Benz, waarvan die agtervenster deur die wagte uitgeskiet is, ‘n wit Ford Fiesta, 'n Honda Ballade en ‘n wit dubbelkajuit Ford Ranger gevlug.
Niemand is in die voorval beseer nie.
– Sapa