Hy oortree bevel, al sing hy in Zim, sê regslui
2010-04-06 10:08
Kaapstad. – Top-regslui betwis Julius Malema, ANC-jeugleier, se verklaring dat ’n hofbevel wat hom verbied om “Shoot the Boer” te sing nie in Zimbabwe geld nie.
Regter Eberhard Bertelsmann van die hooggeregshof in Pretoria het Malema verlede Donderdag verbied om dié lied te sing of opruiende uitsprake te maak tot tyd en wyl die gelykheidshof uitspraak daaroor gelewer het.
Een van die land se senior advokate het gister by navraag gesê Malema se aanname is “hoogs twyfelagtig”.
“So ’n hofbevel is teen sy gedrag in die algemeen. Daar is ’n sterk argument dat wanneer hy terug in Suid-Afrika is dit wel beskou kan word as ’n verbreking van die hofbevel,” het ’n senior advokaat op voorwaarde van anonimiteit gesê.
Ook prof. Pierre de Vos, grondwetkenner aan die Universiteit van Kaapstad, meen as die hofbevel Malema spesifiek verbied om opruiende woorde te uiter, sy gedrag in Zimbabwe op minagting van die hof kan neerkom.
Malema het “Shoot the Boer” gesing kort nadat die jeugliga Saterdag in Harare aangekom het.
Willie Spies, regsverteenwoordiger van AfriForum, het gister gesê die organisasie gaan regsmenings inwin sodra hulle ’n afskrif van Bertelsmann se volledige hofbevel bekom het.
“Ons argument is selfs al is jy in die buiteland, is daar nasionale media wat oor jou (optrede) rapporteer.”
Jackson Mthembu, die ANC se nasionale woordvoerder, het gister gesê hy weet nie of Malema dié omstrede lied in Harare gesing het nie.
“Ek het nog nie met Julius gepraat nie.”
Die jeugliga kon teen druktyd nie vir kommentaar bereik word nie.
– Beeld