Hy kan media nie skuld gee, erken ANC
2011-12-07 07:00
Johannesburg – Die ANC het Dinsdag erken hy kan nie die skuld vir “wanopvattings” oor die Wet op die Beskerming van Staatsinligting op die media pak nie.
’n Afvaardiging van die ANC het met die Suid-Afrikaanse Redakteursforum (Sanef), Projourn en Media Monitoring Africa (MMA) in Sandton vergader oor die omstrede Wetsontwerp op die Beskerming van Staatsinligting wat verlede maand in die Nasionale Vergadering aanvaar is en tot hewige konflik tussen die media en die regerende party gelei het.
“Wat die publiek oor die wetsontwerp gehoor het, is nie inligting met meriete nie, maar veldtogte wat wanopvattings geskep het,” het dr. Mathole Motshekga, ANC-hoofsweep, ná die vergadering aan die media gesê.
Hy het gesê die ANC is deeglik bewus van bekommernisse en openbare protes teen die wetsontwerp en dit is een van die redes vir dié vergadering.
“Ons verkwalik nie Sanef vir die wanopvattings nie, ons blameer onsself omdat ons nie vroeër met hulle vergader het en sake uitgeklaar het nie.”
Dr. Blade Nzimande, sekretaris-generaal van die SAKP, het die media die afgelope naweek daarvan beskuldig dat hy eensydig oor die wetsontwerp verslag gedoen het.
Mondli Makanya, voorsitter van Sanef, het dit ontken.
“Ons het akkuraat verslag gedoen. Ons moes die gevare van die wetsontwerp beklemtoon en die bedreiging vir die vrye vloei van inligting duidelik maak.”
Hy het gesê die media is in beginsel nie gekant teen ’n wet wat staatsinligting beskerm nie.
“Ons sê nie daar moet nie so ’n wet wees nie, ons wil ook ’n veilige Suid-Afrika hê, maar die beveiliging van geheime mag nie die funksionering van ons demokrasie skade aandoen nie.”
“Dit was ’n baie belangrike vergadering en ons as die ANC is opgewonde daaroor. Sanef is leiers in ons gemeenskap en hul stem is belangrik vir die ANC.”
Makanya het gesê dit was die eerste keer dat die ANC Sanef regstreeks oor dié kwessie genader het. “Dit was belangrik vir albei partye om te verstaan waar die ander een vandaan kom. Ons het nou groter begrip vir mekaar.”
Motshekga het gesê Sanef kan steeds aanbevelings oor die wetsontwerp maak aan die Nasionale Raad vir Provinsies (NRP) se ad hoc-komitee, wat tot April 2012 het om sy werk af te handel.
Volg Nuus24 op Twitter
- Volksblad