Hy is g’n rampokker, sê Zuma ná skerp kritiek
2009-12-02 06:38
Lizel Steenkamp
Kaapstad – Pres. Jacob Zuma verwelkom robuuste debat, maar hy gaan hom nie vir ’n “rampokker” laat uitkryt nie.
Die presidensie het gister in ’n sterk bewoorde verklaring te velde getrek teen prof. Pierre de Vos, grondwetkenner aan die Universiteit van Kaapstad, se uitlatings dat Zuma “ ’n rampokker is wat hom en sy makkers tot elke prys sal beskerm”.
De Vos het dié kommentaar verlede week op sy blog Constitutionally Speaking gepubliseer in reaksie op die aanstelling van adv. Menzi Simelane as die nuwe direkteur van openbare vervolging.
Die aanstelling is uit verskeie oorde met afgryse begroet, maar die presidensie meen De Vos het “die standaarde van fatsoenlikheid en intelligente debatvoering oorskry”.
Volgens Vusi Mona, Zuma se woordvoerder, is De Vos se kommentaar “skokkend en gemeen”.
Hy het gesê dit doen dit afbreuk aan Zuma se karakter en die amp wat hy beklee.
De Vos het gister onvoorwaardelik om verskoning gevra en gesê hy wil nie in dieselfde moeras as die leier van die ANC-jeugliga, Julius Malema, sink nie.
“Miskien het ek te ver gegaan in die wyse waarop ek my kritiek uitgedruk het, maar Simelane se aanstelling is steeds skokkend en onvanpas.”
Intussen het dit bekend geword die Staatsdienskommissie het in April in ’n verslag by Enver Surty, destydse minister van justisie, aanbeveel dat tugstappe teen Simelane gedoen word.
- Die Burger