Hy het in landsbelang bedank, sê Heath
2011-12-20 07:57
Pietermaritzburg – Oudregter Willem Heath, wat verlede week as hoof van die SOE bedank het, het gisteraand openhartig gepraat oor sy dramatiese ampstyd.
Heath het bedank ná gesprekke met die minister van justisie, mnr. Jeff Radebe, op versoek van pres. Jacob Zuma. Die gesprekke het gehandel oor uitlatings wat Heath in ’n onderhoud met die Sondagblad City Press gemaak het, onder meer rakende oudpres. Thabo Mbeki se beweerde rol in Zuma se vervolging.
In ’n verklaring wat Heath gisteraand aan The Witness, susterskoerant van Die Burger, uitgereik het, benadruk hy dat die SOE een van die belangrikste ondersteunende instellings van die Suid-Afrikaanse konstitusionele demokrasie is, veral betreffende die bestryding en uitroei van korrupsie, bedrog en wanadministrasie.
“Die afgelope twee weke se gebeure het die indruk geskep dat ek nie in staat is om die SOE op onpartydige wyse te lei nie. Die aanvanklike mediadekking van ’n onderhoud waaraan ek deelgeneem het, het die gegronde of ongegronde indruk geskep dat ek ongekwalifiseerde opmerkings gemaak het wat die hoof van die SOE nie waardig is nie.
Heath het gesê dié indruk het die moontlikheid van partypolitieke debat en meningsverskil geskep, terwyl die SOE se hoof sy taak só moet uitvoer dat enige Suid-Afrikaner, ondanks sy of haar politieke voorkeur, die vrymoedigheid moet hê om ’n saak met vertroue aanhangig te maak.
“As die indruk geskep word, op gegronde wyse of deur innuendo, dat die SOE-hoof nie onpartydig genoeg is om die mandaat uit te voer nie, word die land en die SOE se belange gedien as ek bedank. Die belang en mandaat van die SOE, die landsbelang, geniet voorrang bo die belang van die individu.”
- Die Burger