'Huurmoordenaar' vas oor wapens
2011-12-06 21:56
Johannesburg – ‘n Man is Dinsdag by die Manhlanhla-reservaat in Nongoma naby Vryheid in hegtenis geneem vir die onwettige besit van sewe vuurwapens, het die polisie in KwaZulu-Natal gesê.
Die polisie het ‘n wenk ontvang oor ‘n swaar gewapende vermeende huurmoordenaar. Hulle het na die 36-jarige man se huis gegaan, het lt. kol. Vincent Mdunge gesê.
“Die ondervraging het gelei tot die vind van drie aanvalsgewere – ‘n AK-47, ‘n R1 en ‘n R5 – op die perseel. Twee haelgewere, twee 9mm-pistole en 862 rondes ammunisie vir verskillende vuurwapens is ook gevind.”
Die man is in hegtenis geneem en die polisie het beslag gelê op die vuurwapens.
Hy sal binnekort in die Nongoma-landdroshof verskyn.
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA