Hutte begin vorm aanneem ná erge tornado
2011-10-06 09:15
Johannesburg – Drie dae nadat ’n tornado dele van Duduza aan die Oos-Rand getref het, het die staatsmasjinerie gister in beweging gekom toe die eerste van bykans 600 tydelike hutte langs die oorblyfsels van Hop-huise opgerig is.
Volgens Mtuthuzeli Siboza, lid van die Ekurhuleni-metroraad se burgemeesterskomitee belas met gemeenskapsveiligheid, word beoog om daagliks 50 nuwe hutte op te rig om dakloses te huisves.
“In dié stadium weet ons van 558 huise wat vervang moet word. Daar is 2 370 mense wat direk geraak word.
Daar is ook 238 matrikulante onder hulle en vir hulle gaan daar nou ’n spesiale kamp opgerig word waar hulle hulself vir die eksamen kan voorberei,” het hy gisteroggend in Duduza gesê.
Hy het ook bekend gemaak dat die metroraad voorlopig reeds R2 miljoen bewillig het vir herstelwerk en dat daar ’n bankrekening geopen is waar skenkings inbetaal kan word.
Volgens Siboza word beplan om eers die 558 huisgesinne te huisves. Wanneer dit voltooi is en krag en water is weer aangesluit, gaan daar begin word met die herbou van die huise.
Daar is in dié stadium nog geen skedule daarvoor nie.
“Ons probeer nou eers skuiling vir die gesinne op te rig.
“Die bourommel word eers verwyder, in sommige gevalle moet die oorblyfsel van die huis gesloop word en dan word ’n tydelike hut opgerig. Water en krag kom daarna,” het hy gesê.
Die organisasie Gift of the Givers het gister ’n stuk veld met ’n stootskraper skoon geskraap om plek te maak vir die roudiens van Xolani Mkhtshkwa (8), wat Sondagaand dood is.
Sy roudiens word vandag 14:00 gehou en sy begrafnis is Saterdag.
By die Duduza-gemeenskapsaal het skenkings van beddegoed, ou klere, blikkies kos, sakke meel en groente die saal volgestaan.
Luidens ’n verklaring van Agri SA help bure mekaar wanneer iemand in nood is en die gemeenskap van Duduza is die boere se bure en het hulp nodig.
Volgens Simphiwe Mtsweni, Agri SA se koördineerder in Duduza, is daar sedert Maandag vragte groente en sowat 4t mieliemeel by die gemeenskapsaal afgelaai vir verspreiding.
André Botha, president van Agri Gauteng, sê dat lede van die organisasie se gebede uitgaan na die Mkhtshkwa-familie.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Beeld