Hulp stroom in vir Ficksburg ná Tornado
2011-10-04 20:38
Johannesburg – Kos en boumateriaal van mense en ondernemings het Dinsdag by Ficksburg ingestroom vir tornado-slagoffers wat vandeesweek dakloos gelaat is.
“Dit was net asemrowend om die hulp wat van die gemeenskap ingekom het, te ervaar,” het Johan Janssonius, ‘n woordvoerder van die Ficksburg-rampsentrum, gesê.
Die sentrum werk uit die NG Kerk in Ficksburg.
Volgens Janssonius het die sentrum reeds kos vir 470 mense voorsien.
‘n Tornado het die dorp Sondag getref. ‘n Negejarige seun is dood en 42 mense is beseer. Sowat 122 HOP-huise en sinkhuise is verwoes.
Volgens Janssonius het kos uit die gemeenskap en omliggende dorpe teen Dinsdagmiddag nog ingestroom.
“Ons het ‘n behoeftelys en wanneer ons vleis nodig het vir die kospakkies, word die boodskap oorgedra en die gemeenskap hou net aan gee,” het hy gesê.
“Die hulp stroom golf op golf in.”
Verskeie vragmotors van ondernemings buite Ficksburg het buite die rampsentrum gestop met boumateriaal, mielies en ander voedselitems.
Verskeie ondernemings in Ficksburg het ook gehelp met komberse en kos kort ná die tornado die dorp getref het.
Ruben Ruiters, bestuurder van Vrystaat Mediese Nooddienste, het gesê die noodplan het teen Dinsdagmiddag nog glad verloop.
Die meeste slagoffers is in skole, kerke en gemeenskapsale geakkomodeer en het gedurende die dag hul besittings probeer red.
“Die mense het saamgewerk, op ‘n gedissiplineerde manier.”
Thabo Mokoena, woordvoerder van die Setsoto-munisipaliteit, het gesê die munisipaliteit sal Woensdag vergader om die herbou van beskadigde infrastruktuur en huise te beplan.
Volgens Mokoena is ‘n perseel geïdentifiseer waar tydelike strukture vir behuising opgerig sal word.
Hy het gesê die Vrystaatse departement van maatskaplike ontwikkeling het 1 000 komberse vir hawelose slagoffers voorsien.
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA