Hulp op pad vir vloedgeteisterde gebiede
2011-01-15 11:34
Johannesburg - 'n Komitee wat deur die regering in die lewe geroep is om gemeenskappe te help wat deur vloede geraak word, sal oorstroomde gebiede tot nasionale rampgebiede verklaar, het 'n amptenaar Saterdag gesê.
"Die inter-ministeriële komitee werk daaraan om die gebiede wat deur vloede, donderstorms en veldbrande geraak is... tot nasionale rampgebiede te verklaar," het die minister van samewerkende regering en tradisionele sake, Sicelo Shiceka, in 'n verklaring gesê.
Shiceka is die voorsitter van die komitee, wat ook ministers Tokyo Sexwale (minister van menslike nedersettings), Lindiwe Sisulu (minister van verdediging), Nathi Mthethwa (minister van polisie) en Siyabonga Cwele (minister van staatsveiligheid) insluit.
Ministers Tina Joemat-Pettersson (landbou), Angie Motshekga (basiese onderrig) en Bathabile Dlamini (sosiale ontwikkeling) sal ook op die komitee dien.
"Ons moet spoedig saamwerk om die gemeenskappe en gebiede wat geraak is, te help," het Shiceka gesê.
Die komitee sal Sondag besoek aflê by rampgebiede in KwaZulu-Natal, Gauteng, die Noord-Wes, Vrystaat en Noord-Kaap.
"Die regering sal alles in sy vermoë doen om lewensverlies as gevolg van vloede te verhoed, en vra almal om saam met rampbestuurpersoneel te werk wanneer hulle op rampe reageer.
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA