Huishulp se seun vas ná moord op gesin
2011-10-03 12:31
Johannesburg – Die huishulp van 'n gesin, wat op hul kleinhoewe in Walkerville vermoor is, se seun is in De Deur, suid van Johannesburg, in hegtenis geneem het die polisie in Gauteng gesê.
Brig. Anton du Bruyn, polisiewoordvoerder, het gesê die gesin se lyke is Sondagmiddag op hul kleinhoewe gevind.
"Die sekuriteitsdeur is oopgemaak en daar is bloed in amper al die kamers."
Die lyk van Giraldine Vaina (46) is in die hoofslaapkamer gevind, terwyl haar man, Tony Vaina (50), in die voorkamer doodgeskiet is. Hy is op sy maag gevind, met sy hande wat agter sy rug vasgemaak is.
Amaro Vaina (13) se lyk is in die bad gevind, met sy hande wat agter sy rug vasgemaak is. Hy was 'n gr.7-leerder aan die Linmeyer Primêre Skool.
Sy pa was die eienaar van MSV Tooling in Germiston.
Die polisie glo die gesin is Saterdagaand vermoor.
Die 20-jarige man staan tereg op drie aanklagte van moord, verkragting, motordiefstal en huisroof.
Du Bruyn het gesê die man verskyn binnekort in die Vereeniging-landdroshof.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA