Huishulp gooi glo baba weg
2010-06-08 05:40
Durban – ‘n Huishulp is Maandagoggend in hegtenis geneem nadat sy glo haar pasgebore baba in ‘n asblik gegooi het in Umhlanga, het die Durbanse metropolisie gesê.
“Die mense wat die vullis by die huis kom oplaai het, het die pasgebore baba in ‘n swartsak gevind,” het supt. Joyce Khuzwayo, woordvoerder, gesê.
“Hulle het dadelik die polisie ontbied en die baba is na die hospitaal gehaas. Die polisie het na die huis gegaan waar die baba gevind is en die huishulp in hegtenis geneem,” het Khuzwayo gesê.
Na bewering was die huishulp sowat nege maande swanger en het sy ‘n pil gedrink om die baba te aborteer.
Die huishulp sal Dinsdag in die Verualm-landdroshof verskyn.
- SAPA