Huishulp bedwelm, hond vergiftig
2011-12-16 07:36
Pretoria – Vyf gewapende rowers het Donderdagoggend in ’n oënskynlik fyn beplande huisrooftog in Pretoria Tuine ’n huiswerker bedwelm en ’n hond vergiftig.
Die rowers het twee kluise uit die mure van twee slaapkamers in Albie (47) en Hantie (45) van Niekerk se huis gebreek, dit in mev. Van Niekerk se blou VW Golf 4-motor gelaai en weggekom.
Die huiswerker, Susan Sedutla (26) van Mamelodi, was Donderdag nog in ’n hospitaal nadat die rowers haar ’n bedwelmende drankie ingegee het.
Die kluise het volgens Elmo van Niekerk (25), die Van Niekerks se seun, twee vuurwapens, ’n .222-jaggeweer en ’n .38 Special-rewolwer en “persoonlike goed met baie sentimentele waarde” soos Kruger-rande, oorspronklike musiek wat sy sussie geskryf het, ’n sweep van sy oupa, waardevolle messe en ’n waardevolle versameling ou muntstukke en note in gehad.
Amy, die gesin se swart labrador, is dood in die huis aangetref nadat die rowers haar vergiftig en in ’n kamer toegesluit het.
Van Niekerk jr. het Donderdag gesê Amy was vir die gesin soos ’n kind. “As jy ’n hond so onnodig en gewetenloos kan doodmaak, is jy walglik,” het hy emosioneel gesê. “My ma wou onmiddellik net weet of die honde oukei is. Ons is hartseer.”
Van Niekerk jr., wie se ouers op vakansie is, was Donderdagoggend al by die werk toe die rowers Sedutla omstreeks 07:10 oorval het. “As ek werk toe ry 06:00 sluit ek die honde in die huis toe. Susan sluit die huis dan oop as sy 07:00 daar aankom. Net ná 07:00 is sy deur die rowers oorrompel,” het Van Niekerk gesê.
“Hulle moes geweet het my ouers is op vakansie en hoe laat ek werk toe gaan. Ek vermoed hulle het ons lank dopgehou.
“Die polisie was al daar toe ek daar opdaag. Susan is hospitaal toe,” het hy gesê. “Sy kon darem sê dit was vyf rowers, vier swart mans en ’n wit man.”
Ao. Wanda Olivier, polisiewoordvoerder, het gesê die polisie ondersoek ’n saak van huisroof, motordiefstal, aanranding, die diefstal van vuurwapens en die vergiftiging van ’n troeteldier.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Beeld