Huisbrand-tragedie: Polisie vermoed vuilspel
2010-07-20 11:22
Johannesburg – Die polisie ondersoek ‘n saak van brandstigting nadat ‘n ma en twee kinders in ‘n brand by hul huis in Norwood gesterf het, het nooddienste Dinsdag gesê.
“Dit is ‘n kriminele ondersoek,” het Percy Morokane, woordvoerder, gesê.
“Nadoodse ondersoeke sal nou op die oorledenes gedoen word. Die polisie ondersoek ‘n saak van brandstigting.”
Die forensiese ondersoek sal ‘n tydjie neem om afgehandel te word, maar sodra dit klaar is sal die oorsaak van Sondag se brand bekend wees.
Die brand is Sondag omstreeks 21:30 gerapporteer.
Die liggame van die kinders, tussen die ouderdomme van twee en vier, is op die grondvloer van die dubbelverdiepinghuis gevind.
Na bewering het die pa, Shane de Beer, glo uit ‘n venster gespring toe die brand ontstaan het.
Die oorledenes is intussen geïdentifiseer as Monica de Beer (35) en haar twee kinders Rogan (4) en Milla (2).
Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA