Huis in Sasolburg met klippe bestook
2013-01-24 09:25
Johannesburg – 'n Huis is met klippe bestook en 'n bouterrein is oornag in beweerde kriminele aanvalle in Sasolburg aan die brand gesteek, het die polisie Donderdag gesê.
"Dit blyk krimineel gemotiveerd te wees; mense wat 'n kans vat," het konst. Peter Kareli, polisiewoordvoerder, gesê.
Twee mense is dood en verskeie beseer in betogings wat die gebied sedert Sondag geruk het.
Die motief vir die aanval op die huis is nie bekend nie, omdat dit nie 'n munisipale beampte se huis is nie, het hy gesê.
"Sowat 12 of 13 mense het klippe na die huis gegooi en weggehardloop. Niemand is beseer nie."
Inwoners het Donderdagoggend begin om terug te keer werk toe ná die betoging oor munisipale afbakening.
"Hoewel die situasie daar nog gespanne is, is die situasie onder beheer," het Kareli gesê.
Inwoners het Sondag begin betoog oor die voorgestelde samesmelting van die Sasolburg- en Parys-munisipaliteit.
Richard Baloyi, minister van samewerkende regering, het Dinsdag aangekondig dat die samesmelting nie onmiddellik sal voortgaan nie.
Kareli het gesê inwoners het Woensdagmiddag begin om die strate skoon te maak.
"Ons gaan nog baie polisiebeamptes in die gebied hê totdat ons oortuig is daarvan dat die situasie kalm is."
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA