Howe ANC se nuwe teiken?
2011-11-25 08:02
Kaapstad – Die kabinet se besluit om uitsprake van die grondwethof te laat ontleed, het Donderdag die vrees laat ontstaan dat die volgende ANC-aanval op die regbank op pad is.
“Dit is onvanpas,” het prof. Willem Landman, uitvoerende direkteur van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Etiek, gesê.
“Gegewe pres. Jacob Zuma (se manier) om die howe op hul plek te sit, is ’n mens geneig om agterdogtig oor die motiewe te wees,” het hy gesê.
Die kabinet het Donderdag in Pretoria aangekondig dat hy ’n navorsingsinstelling gaan aanstel om die grondwethof se beslissings te beoordeel.
Dit vorm deel van ’n breër ondersoek na die transformasie van die regbank.
Luidens ’n verklaring wil die regering vasstel hoe die grondwethof se uitsprake gewone Suid-Afrikaners se lewe geraak het.
Die regering wil ook vasstel hoe dié uitsprake maatskaplik-ekonomiese transformasie, sowel as regshervorming, beïnvloed het.
Maatreëls gaan ingestel word om die doeltreffendheid en integriteit van die Regterlike Dienskommissie (RDK) en die Landdrostekommissie te verhoog wat betref die uitvoering van hul grondwetlike mandaat rondom ras en geslag op die regbank.
Landman het daarop gewys dat die hof se besluite op sigself geen invloed op mense se lewe het nie, tensy die uitvoerende gesag nie dié besluite uitvoer nie. “Dan, en slegs dan, kan ’n mens impak evalueer.”
Zuma het onlangs in die parlement gesê die land moet nie deur ondermynende beslissings van die hof geregeer word nie en die hof moet hom nie met beleidsake bemoei nie.
Ander ANC-leiers wat ook onlangs die hof gekritiseer het, sluit in die ANC se sekretaris-generaal, Gwede Mantashe, en die party se hoofsweep, dr. Mathole Motshekga.
Dene Smuts, DA-LP, het die aankondiging as “een van die vreemdste voorstelle tot nog toe” bestempel.
“Dit is moeilik om te glo dat hierdie die idee van die minister van justisie en grondwetlike ontwikkeling, Jeff Radebe, was. Hy het nog altyd die beginsel van die skeiding van magte ondersteun,” het sy gesê.
Prof. Pierre de Vos, grondwetkenner verbonde aan die Universiteit van Kaapstad, het gesê as die motief vir die besluit spruit uit die geloof dat die hof met die uitvoerende en wetgewende gesag inmeng, dan is die aankondiging ’n onding.
“Alles hang af van wat daaragter steek.
“Die regbank het tot dusver die Grondwet pligsgetrou toegepas, anders as die uitvoerende en die wetgewende gesag.”
Oudregter Johann Kriegler, wat ook voorsitter is van die invloedryke regsorganisasie Freedom Under Law, het gesê dit is opvallend dat “die bystand en beskerming van die howe se onafhanklikheid, onpartydigheid, toeganklikheid en doeltreffendheid skynbaar nie aandag verg nie”.
Die kabinetswoordvoerder, Jimmy Manyi, het gesê die departement van justisie en grondwetlike ontwikkeling sal aanstaande week meer besonderhede oor die transformasieproses verskaf.
Volg Nuus24 op Twitter
- Volksblad