Hou op gis oor Griekwastad-moorde, sê polisie
2012-04-11 07:02
Bloemfontein – Die polisie het versoek dat mense met inligting oor die moorde op Goeie Vrydag by Griekwastad dit aan hulle moet gee eerder as om gerugte en ’n geskinder op sosiale netwerke te plaas.
Die versoek volg nadat gebruikers van sosiale netwerke soos Facebook en Twitter sedert die moordtragedie allerlei ongetoetste bewerings in die kuberruim versprei het.
Die 15-jarige Don Steenkamp is die enigste oorlewende van die treurspel waarin sy pa, Deon Steenkamp (44), sy ma, Christelle (43), en sy 14-jarige sussie, Marthella, op hul plaas Naauwhoek buite Griekwastad in die Noord-Kaap doodgeskiet is.
Die Vrystaatse radiostasie OFM het Dinsdag berig dat ’n prokureur en advokaat vir Don Steenkamp aangestel is. Die Burger kon dit egter nie amptelik bevestig nie.
Kapt. Cherelle Ehlers, ’n polisiewoordvoerder, het gesê die saak word nog ondersoek en daar is nog geen nuwe verwikkelings nie.
Die polisie het nog geen verdagtes geïdentifiseer nie en verklarings word nog afgeneem.
Oor die gerugte rondom die gebeure in die Naauwhoek-plaashuis, het sy gesê mense met bruikbare inligting wat kan help om ’n verdagte te identifiseer, moet eerder na die polisie met die inligting gaan.
Johan Volsteedt, hoof van Grey Kollege (sekondêr) in Bloemfontein waar Don Steenkamp ’n gr.10-leerder is, het Dinsdag gesê “die Steenkamp-skietdood is ’n tragedie wat die hele Grey-gemeenskap raak”.
Volgens hom het hy nog nie weer met Don gepraat sedert hy Saterdagoggend ná die voorval oor die foon met dié geskokte seun gepraat het nie.
“Ek dink dit moet moeilik wees vir enigiemand wat hom in só ’n situasie bevind en ek glo dit is nie vir Don, wat ook al die feite van die skietvoorval mag wees, maklik nie.”
“Ons het vervoer gereël vir sy vriende en ander leerders wat Donderdag die roudiens vir sy ouers en sy sussie op Griekwastad wil bywoon,” het Volsteedt gesê.
Mariettha Matthee, hoof van die Hoër Meisieskool Oranje in Bloemfontein, waar Marthella ’n gr.9-leerder was, het gesê ’n pamflet oor haar is Dinsdag na elke klas versprei.
Die skool hou Woensdag om 13:00 ’n roudiens vir haar.
Charné Kemp berig uit Griekwastad dat die roudiens vir die drie lede van die Steenkamp-familie môre om 11:00 in die einste NG kerk Griekwastad gehou gaan word waar die hele gesin nog ’n Paasdiens op Goeie Vrydag bygewoon het.
Marianna Smith, suster van mnr. Steenkamp, het Dinsdag die lyke van haar broer, sy vrou en hul dogter by die lykshuis in Kimberley gaan uitken.
Die staatslykskouings sal Woensdag in Bloemfontein gedoen word.
Volg Nuus24 op Twitter
- Die Burger